|
|
|
|
FLAPTEKS |
|
Stelling: Die mensdom is verslaaf – aan sosiale
media, die kuber, www, @, # en alles virtueel. Vraag:
Is rehabilitasie
moontlik? Antwoord: Nee, die verdowing is reeds
akuut. Tensy:
Medusa, die berugste kuberkraker ooit, haar missie voltooi: om sosiale media
asook die ganse internet, te vernietig. Om terug te keer na tye toe realiteit
en fantasie verskillende begrippe was. Toe feit nog van fiksie onderskei kon
word. Maar: Medusa speel kat en muis met almal. Ontrafel
my wagwoord, dan praat ons weer, tart sy haar agtervolgers. Proses:
In ’n futiele poging om die kuberruim te beskerm, vertrek ’n span
IT-spesialiste na die barre verlatenheid van die Namibwoestyn. Om daar, buite
bereik van die internet asook Medusa se tentakels, hulself ’n laaste kans te
gee om daardie wagwoord, asook die kode wat dit kan ontsluit, te
ontsyfer. Wat die span egter nie besef
nie, is dat Medusa een van húlle is. Slot:
Terug uit die woestyn, word Medusa by wyse van spreke wél onthoof, maar op ’n
manier wat geen siel verwag het nie, allermins Medusa self. |